Albert Schoeman van die Rietvlei/Middelplaas-omgewing by sy ou New Holland-baler wat met ’n gasvlam opgesny is terwyl hy die naweek weg was.
’n uitstappie na die Bull Run by Vosburg, ’n baler wat in stukke opgesny is en Glamour Pink-sigaretstompies vorm die bestanddele van ’n intrige wat dit die naweek van 7 Oktober in die Rietvlei/Middelplaas-omgewing naby De Rust op die plaas van Albert Schoeman afgespeel het.
Schoeman vertel hy is Donderdag, 6 Oktober, saam met sy broer, Anton, vir die naweek na die Bull Run, ’n pretbyeenkoms vir ou motors op die Vosburgpan in Noord-Kaapland. “Ek gaan baie selde weg van die plaas omdat ek alleen boer en nie ’n voorman het nie,” vertel hy vandeesweek.
Schoeman het die Vrydagmiddag, terwyl hy by die Bull Run was, omstreeks 15:00 ’n oproep ontvang van sy vrou, Myrtle, wat op die plaas was.
“Sy het gesê een van ons plaaswerkers het vir haar kom sê hy het gesien ’n bakkie ry by die erf van ’n ou onbewoonde huis op ons plaas uit met ’n vrou agter die stuur en twee mans wat saamry.
“Die werker het daarna op die erf, waar my baler onder ’n boom gestaan het, gesien dat die baler in stukke opgesny is, klaarblyklik met ’n gasvlam,” vertel hy. Die ou huis waar die baler gestaan het, is sowat 400 meter van die huis waar hy nou woon.
Die baler wat opgesny is, is ’n ou rooi New Holland-masjien wat in werkende toestand is en wat hy nog jaarliks gebruik het.
Volgens Schoeman het hulle vermoed iemand wou die baler vir skrootyster steel. Sy seun, Altus, wat op Oudtshoorn woon, het kom hand bysit. Hy het die stukke van die baler op ’n wa gelaai en dit na ’n kampie langs sy pa se huis geneem.
Nadat Schoeman teruggekeer het van die Bull Run-uitstappie het hy ondersoek ingestel en navrae gedoen.
“Ek het ’n paar Glamour Pink-sigaretstompies opgetel by die plek waar die baler opgesny is. Daar is plaaswerkers wat die bakkie met die vrou en twee werkers vroeër in die omgewing sien op en af ry het. Hulle weet hoe die bakkie lyk.”
Schoeman sê ná sy navrae vermoed hy dat dit nie ’n poging tot diefstal was nie, maar moontlik ’n misverstand.
Hy vertel daar lê ook ’n ou rooi baler op ’n buurplaas, sowat 800 meter van waar sy eie baler gestaan het. Schoeman het dié ou baler wat nie meer in werkende toestand was nie, vir Die Hoorn gaan wys. Dit is ’n Massey Ferguson-baler en staan op ’n lusernland naby nog ’n ou huis.
Die Hoorn het op navraag verneem dat die eie-naar van die ou Massey Ferguson-baler, wat nie sy naam genoem wil hê nie, met Christo Reinbach, eienaar van CJ’s Scrap Metal op Oudtshoorn, wat al voorheen skroot op sy plaas kom verwyder het, ’n reëling getref dat hy ook die ou stukkende baler kan kom verwyder.
Reinbach het gister bevestig dat hy nog die ou Massey Ferguson-baler moet gaan haal. Op navraag het hy gesê hy het verneem van Schoeman se baler wat opgesny is, maar weet nie wie dit gedoen het nie.
• Volgens Schoeman het hy net voordat hy by die Bull Run was, die baler gediens en baaltou gekoop aangesien dit nou baaltyd is. Hy vertrou dat die verantwoordelikes eerlik genoeg sal wees om met die waarheid vorendag te kom. Al wat hy verwag, is dat hy vir sy skade vergoed word.
• Louis Visser, polisiewoordvoerder op Oudtshoorn, het gesê ’n saak van opsetlike saakbeskadiging word ondersoek in verband met Schoeman se opgesnyde baler, maar dat niemand nog aangekla is nie. (Deur Schalk le Roux)